Wanneer Ek kom, waarmee gaan Ek jou besig vind?

Christians studying the word of God and share with unbelievers.

Dit is baie duidelik dat die wêreld wat ons geken het, nie gaan terug keer nie. Dinge verander daagliks teen ‘n spoed wat ongekend is. Daar word soveel druk by in die werksplek op mense gelaai en die onmoontlike verwag. Finansieël is huishoudings onderdruk, soveel so dat daar mense is wat op oneerlike manier dinge doen net om by die “Jones” te kan by bly. Daar is mense wat nie weet waar hulle volgende bord kos vandaan gaan kom of hoe hulle die dak oor hulle koppe gaan behou nie. Dit is alles dinge wat veroorsaak dat mense in plaas van op Jesus te vertrou vir die uitkoms, eerder ons siek bekommer.

Ons as wedergebore Christene het ons ‘n keuse om te maak en daar by te bly. Gaan ons dinge doen om ons beeld na die wêreld goed te laat lyk of gaan ons in nederigheid aan die voete van Jesus bly en doen wat Hy van ons verwag. Wil ons die wêreld tevrede stel of vir Jesus wat Sy majesteit en glorie prys gegee het, om vir ons aan ‘n kruis te sterf, sodat ons vir ewig by Hom in glorie kan lewe indien ons Hom kies.

Jesus het die gelykenis in Lukas 12 vertel van die waaksame dienskneg.

Lukas 12:35-48 “LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”

Waarmee hou ons, ons self besig? Is dit met wêreldse goed om mense tevrede te stel of met Koninkryks dinge om ons Here Jesus tevrede te stel? Baie van ons het nadat ons tot bekering gekom het, alles in gesit in die Koninkryks werk en toe ons te veel teenstand van mense kry of verwerp word deur die mense of net moeg geword het om met die dinge van die Here besig te wees het ons verflou. Dalk het ons soos in die gelykenis ook gevoel ons Heer vat te lank om te kom.

Vandag meer as ooit sien ons die tekens dat Jesus se koms op hande is. Dit is nou meer as ooit tevore nodig om seker te maak dat ons in die weë van die Here is, dat ons besig is met Koninkryks sake en dat ons die Here meer vrees as mense. Dat ons onbeskaamd vir die Here op staan en doen wat reg is al kos dit wat.

Lukas 12:4-5 “ EN Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!”

Matthéüs 10:32-33 “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”

Matthéüs 10:7-8 “En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reining melaatses, wek dooies op, dryf demone uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.”

Laat ons Jesus ernstig opneem wanneer Hy sê dat Hy met ons is tot aan die einde van die aarde en onbevrees in Sy diens staan en seker maak dat ons besig is met die dinge van die Here. Verruil die vrees vir die mens vir die vrees van die Here, want die vrees van die Here is wysheid.

Markus 13:33-37 “PAS op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.

Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!

Gebed: Hemelse Vader ons loof U vir U goedheid en genade. Dankie vir U Woord wat ‘n lamp op ons pad is en ‘n lig vir ons voet is. Vergewe ons waar ons verslap het in ons Koninkryks werk en help ons deur U Heilige Gees om weer vurig U werk te doen, sodat wanneer Jesus binne kort gaan kom Hy ons besig sal vind met U werk en U daardeur verheerlik sal word. In Jesus Naam. Amen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *