Paasfees – Pasga

Dit is weer die tyd van die jaar wat ons Paasfees vier. Dit is vir my baie hartseer en kwaad om te sien en te hoor dat die mens dié belangrikste tyd van die jaar afgewater het na net ‘n lang naweek om weg te breek, paaseiers en paashase. Dit terwyl dit gaan oor Jesus Christus wat aan die kruis gesterf het, sodat die wat in Hom glo vir ewig saam met Hom kan lewe. Dit wil voorkom of mense nie meer self die prys wil betaal om weg te draai van die wêreldse plesier en Hom te volg nie, terwyl hulle tog wanneer hulle dood gaan hemel toe wil gaan.

Paaseiers en paashase is ‘n heidense gebruik wat die Here grief en Hy sal dit nie ongestraf laat nie. Die vyand gebruik die heidense gebruik om mense se aandag weg te draai van die kruis en die Lam wat geoffer is om ons sonde weg te neem.

Jesus het aarde toe gekom om gehoorsaam te wees aan Vader God tot die dood toe. Indien ons Hom wil volg en vir ewig saam met Hom wil lewe, moet ons ook tot die dood toe gehoorsaam wees aan Hom. Weg draai van heidense gebruike en mens gemaakte tradisies en die wil van die HERE stiptelik doen. Jesus het Sy alles vir ons gegee, wanneer ons Hom aanneem as Saligmaker en Verlosser, moet ons ook ons alles vir Hom gee. Ons kan nie net seker goed vir  Hom gee en nog aan ander wêreldse goed vas hou nie. Jesus sê woorde in Lukas in baie duidelik:

Lukas 9:57-62 En terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! Toe sê Jesus vir hom, Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. En Hy sê aan ‘n ander een: Volg MY. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God. EN ‘n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

Ons het nodig om terug te keer na die dinge wat regtig saak maak, die EEN wat regtig saak maak. Dit is ‘n feit dat ons in geleende tyd is en daar nie meer tyd is om ligtelik met die Here en Sy woord om te gaan nie. Dit is tyd om ernstig die HERE te soek terwyl Hy nog te vinde is. Die uurglas loop vinnig uit!

Gebed: Hemelse Vader dankie vir U groot liefde vir ons dat U, U enigste Seun vir ons gegee het om die volmaakte offer te bring. Die offer wat ons met U versoen en al ons sondes van ons weg neem. Vergewe ons asb al ons oortredinge en dat ons lou is. O Gees van God kom blaas nuwe lewe in die dooie bene en gee ons ‘n wit, warm hart vir Jesus om Hom lief te hê meer as ooit tevore. In Jesus Naam Amen Amen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *