Vroeg in die Bybel leer ons al jy mag nie steel nie. Ongelukkig dink baie van ons dat dit net inbrekers is wat steel. ‘n Paar jaar gelede vertel ‘n dame aan ons dat hoe die Here vir haar geopenbaar het dat dit ver van die waarheid is dat net inbrekers steel.
Wanneer jy afkyk op ander se werk in die eksamen, of dalk is jy ‘n ontwerper en gebruik jy iemand anders se idee as jou eie – dit is steel. Vat jy die pen by die werk vir jou kind by die huis, is dit steel. Maak jy ‘n privaat oproep van die werk se telefoon sonder om te vra of om vir die oproep te betaal, is dit steel. So ook wanneer jy afskrifte vir persoonlike gebruik by die werk maak sonder om daarvoor te betaal is dit ook steel. So kan die lys aangaan.
Dit is nou al ‘n paar weke dat dit op my hart is dat ek die saak moet uitlig. Dit is vir God ‘n groot gruwel wanneer Sy kinders die dinge doen. Die tipe praktyk hoort nie by wedergeborenes nie. Ons moet waak dat ons nie in die slaggate trap nie, en waar ons oortree het moet ons dit reg stel.
1 Korinthiërs 6:10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
Hierdie is ‘n baie belangrike vers. En dit is baie duidelik dat ons wakker moet wees en die vyand wat ons so maklik in die strik laat trap om te fluister dat niemand sal weet nie, of dit is okay, almal doen dit. Dit is nie die geval nie, die HERE weet en dit is nie reg nie. Ook wanneer daar sleg van mense agter hulle rug gepraat word is dit verkeerd in die HERE se oë.
Ons het nodig om die volgende vers in ons lewe elke oomblik van die dag toe te pas.
Jakobus 4:7-8 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!
Romeine 6:15-16 Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie – of van die sonde tot die dood, of van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?
Dit is duidelik in die verse in Romeine dat al is ons onder die genade en vergewe die Here ons, moet ons nog steeds van die kwaad af weg bly. Ons kan nie opsetlik bly sondig en net dink God moet dit vergewe nie. Daar moet van ons kant ‘n poging wees om op te hou met die sondes. Dit is nodig dat ons die Heilige Gees vra dat Hy ons sal help met die ernstige saak. Uit ons eie kan ons dit nie reg kry nie.
Gebed: Hemelse Vader dankie vir U groot liefde en genade vir ons. Ons eer U vir U barmhartigheid en bring aan U al ons lof. Heilige Gees ons sukkel om heeltemal van die sonde weg te draai, kom help ons sodat ons lewe vir U welbehaaglik sal wees. In Jesus Naam vra ons U. Amen.
