Luister na jou Herder se stem

Vir die afgelope paar weke wil my dogtertjie elke aand die storie van die Goeie Herder hoor. Dit het eers begin met name vir elke skaap, selfs die een wat weg geraak het met geluide soos die Herder wegloop om Sy verlore skaap te gaan soek.

Na ‘n week van elke aand dieselfde storie het ek in verwondering vir haar gevra of ons nie maar ‘n ander storie kan lees nie, Nee mamma die skapies. Ek het toe maar begin lees sonder al die by geluide en name ens. Maar dit het nie gehelp nie.

Gister aand het ek daar gesit en vir haar gevra of sy werklik nog nie moeg is vir die storie nie. Weereens het sy nee geantwoord en ek tot die besef gekom dat die Here hier iets wil sê en ek moet luister. Met die besef het sy dadelik uitgeroep, mamma ons kan maar iets anders lees. Hier het ek toe aan haar gesê, nee kom ons lees hom nog een keer en dan kan ons nog ‘n ander storie ook lees.

Soos meeste kinderboeke is, is dit nie heeltemal uit gebeeld soos in die Bybel nie maar die boodskap kom goed deur. Ek het vanoggend weer Johannes 10 gaan lees net soos gister oggend (hoe kon ek nie besef en sien wat die Here wil sê nie).

WOW!!

Johannes 10:9-10 Ek is die deur, as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Johannes 10:15-16:  Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader, en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na My stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

Johannes 10:27-30 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.

***

Ek het by die werk gekom, my vriendin gegroet en gesels, sy het later na my tafel toe gekom en my mee gedeel wat sy vanoggend gelees het en die boodskap was dieselfde boodskap wat sy vroeër die week met my gedeel het (dit was uit twee verskillende dele van die Bybel, maar ek gaan net vandag se een met jul deel).

Matthéus 4:17 Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Matthéus 4:23 – 24 Hy het toe in die hele Galilea rond gegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, die wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak.

***

So kom ek in ons werk’s kombuis en ‘n dame stap in met ‘n t-hemp waarop Romeine 8:28 staan. Ek moes dit gaan lees toe ek by my tafel kom. Ek het die hele hoofstuk gelees soos geleer was deur my geestelike leier.

Ek het op nog ‘n vers afgekom in hoofstuk 8 wat vir my uit gestaan het.

Romeine 8: 18:  Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.

Romeine 8:28: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat volgens Sy besluit geroep is.

***

So het ek tot die besef gekom dat die Here is besig om Sy kudde reg te kry, ons moet ons sondes bely en onsself bekeer. Gedurende die intense tyd moet ons skuiling vind by ons Vader, meer tyd saam Hom spandeer, ons geestelike ore oop maak en hoor wat Hy vir ons wil sê en ons geestes oë oop maak om te sien hoe Hy ons wil lei. Ons moet onder geen omstandighede ingee nie, dit is wat die vyand wil hê, want as jy ingee het hy mag oor jou. Staan vas in die Woord van die Here. Glo, vertrou, bid en bly in die Gees en onder die salwing van die Heilige Gees.

Draai terug na die Here toe! Hy beskerm ons en niks kan ons uit sy hande ruk nie.

Gebed: Hemelse Vader dankie vir U onvoorwaardelike liefde. Dankie Here Jesus dat U ons Herder is en ons niks sal kort kom nie, want U sorg vir ons. Heilige Gees open asseblief ons ore om die stem van ons Herder duidelik te kan hoor. Here Jesus lei ons asseblief op U pad van geregtigheid en help ons deur U Gees om heilig te lewe sodat ons met ‘n wit fyn linnekleed voor U kan staan vir die Bruilofsmaal. In Jesus Naam Amen.

Hildegard Dicks

20.03.2020

sheep, herd, shepherd

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *