Die Beirut ontploffings het die wêreld letterlik en figuurlik geskud. Hier is die link na Marko Kiroglu se uiteensetting en hoe dit in lyn is met Bybel profesie.
Dit is baie duidelik dat daar nie baie tyd is om te mors nie. Môre is vir niemand belowe nie. Afgesien van die basuin wat enige oomblik kan blaas wat Jesus Sy bruid huis toe neem, is ons net een hart klop, een asem teug weg van die dood. Dit is nou meer as ooit nodig dat ons moet seker wees dat ons in die regte verhouding met Jesus Christus is. Ons moet wedergebore wees soos Jesus vir ons dit in Johannes 3:3-8 baie duidelik stel.
Johannes 3:3-8 3. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5. Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6.Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. 8. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
Daar is geen ander manier wat jou verhouding met Hom reg kan wees nie. Hy is die enigste weg na die Vader in die hemel. Niemand kan na die Vader (hemel) gaan behalwe deur Jesus nie. Johannes 14:6-7
Johannes 14:6-7 6. Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Moenie mislei word deur dat daar gesê word dat alle paaie lei na die hemel – alle godsdienste bring jou in die hemel nie. Dit is onwaar, Jesus het dit self gesê. Slegs deur geloof in Jesus Christus en ‘n verhouding met Hom, totale oorgawe aan Hom deur die bekering van sonde en die wegdraai van sonde kan jou verseker dat jy die hemelse tuiste sal sien wat Hy gegaan het om voor te berei.
Daar moet ‘n dag in jou lewe wees wat jy jou voor God verneder het, met opregte berou jou sonde belei het en Jesus jou deur Sy Gees gewederbaar het. Daarna deur die bekerings doop, saam met Christus in die water graf gegaan en saam met Hom op gestaan in ‘n nuwe lewe in Christus. En dan kom Jesus soos op Pinkster in die bo-vertrek met die dissipels en doop jou met die krag van die Heilige Gees. Geen godsdienstige tradiesie kan jou wederbaar nie, net Jesus Christus deur Sy Gees kan dit doen.
Indien jy nog nie op die punt gekom het nie en jy wil dit nou doen, hier is ‘n gebed wat jy hardop en met erns kan bid en Jesus wat jou hart ken, sal jou wederbaar.
Hemelse Vader dankie dat Jesus Christus ook vir my gesterf het op Golgota en dat Jesus vir my daar die duur prys betaal het. Here Jesus ek kom na U toe vandag en bring my lewe voor U. Ek besef dat ek ‘n sondaar is volgens Romeine 3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,” Ek bely vandag met my mond dat ek ook ‘n sondaar is en vra dat U my van my sonde sal vergewe en was my in die kosbare en dierbare bloed van Jesus Christus.
Dankie dat U my vandag aanneem as U kind en my sondes vergewe het. Dankie dat ek ook kan weet soos in Johannes 1:12 “maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo” dat ek nou U kind is. Heilige Gees ek vra dat wanneer ek wel weer sondig, U my daarvan sal oortuig, sodat ek dit dadelik kan bely. Vader ek vra dat U my sal bewaar onder die bloed van Jesus en elke band breek wat satan in my lewe het. Baie dankie Vader dat U my nou vergewe en ek nou gered is as U kind. In die naam van die Here Jesus bid ek dit! Amen.
Welkom in die familie van Christus! Ek bid dat die Heilige Gees jou help om te groei as Christen en jou verhouding met Christus al dieper word. Skakel by ‘n kerk in wat die Woord van God suiwer verkondig en nie ander leerstellings nie. Vra die Heilige Gees om jou te lei.
Indien jy reeds wedergebore is, maar nie die Here meer dien soos wat jy gedoen het toe jy tot bekering gekom het nie en weg gedwaal het, bid die volgende gebed:
Hemelse Vader ek kom na U troon van genade toe, met ’n berouvolle hart. Ek kom bely al my sondes opnuut voor U en vra dat U my ook sal vergewe dat ek afgedwaal het. Ek dank U dat U my nie in die tyd alleen gelaat het nie en dat U Heilige Gees my weer terug gelei het na U. Ek kies om weer in ‘n intieme verhouding met die Drie-enige God te staan en U met my hele hart voluit te dien. Ek dank U dat U my vergewe en terug neem in Jesus Naam. Amen.
Staan sterk in die geloof en volhard in die wedloop tot die einde. Die beloning is die verdrukking wat ons nou ly werd. Don’t give up!
