So baie mense ly deesdae aan spanning en kry vrees aanvalle. Dit is net omdat die vyand ons gevange wil hou, sodat ons nie die lewe en oorvloed wat Jesus vir ons kom gee het, kan ontvang nie. Die duiwel wil ons in die vesting hou, want dan het hy beheer oor ons lewe en nie Jesus nie.
Dit is waarom Jesus op soveel plekke ons vermaan om nie te vrees en bekommerd te wees nie. Wanneer Hy ons losgekoop het en ons kinders van die Hemelse Vader geword het, is ons onder Sy beskerming en Sy voorsiening.
Matthéus 6:31-34 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
Wanneer ons na die skepping kyk, is daar nie een voëltjie of diertjie in gespanne is oor wat hulle gaan eet nie, want hulle weet hulle hemelse Vader sorg vir hulle. Dit is hoe ons ook te leef. Vry van enige bekommernis en vrees, want ons wat meer werd is as die voëls in ons hemelse Vader se oë, het net nodig om na Abba toe te gaan en te vra. Jesus sê alles wat ons nodig het moet ons net vra in Jesus se Naam en Abba sal dit vir ons gee volgens Sy wil. Jesus sê ook dat nog voor ons gevra het, weet Abba reeds wat ons nodig het en voorsien Hy vir ons. Dit het ek al hoeveel keer in my lewe gesien gebeur. Ek het nog gedink ek moet dit op my gebedslys sit, dan het die uitkoms al gekom. Dan het ek net nodig om die “dankie” op die lys te sit. En dan nog steeds laat ons die vyand toe om twyfel by ons te saai of Abba vir ons gaan deur kom. Ons het regtig nodig om die duiwel meer te weerstaan en te vertrou dat Abba vir ons gaan gee wat ons nodig het.
Johannes 10:10 – 11 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie Herder. Die goeie Herder lê Sy lewe af vir die skape.
Jesus het ons so lief dat Hy Sy heerlikheid in die hemel verlaat het en as mens aarde toe gekom het. Hier op aarde het Hy as mens gely en Sy lewe vir ons op die kruis geoffer om vir ons sondes te betaal. Hy het nie een keer Sy vyande terug geantwoord of teenkanting gebied toe Hy gevange geneem, verhoor, verneder en geslaan is nie. Hy was stil en het die lyding met liefde deur gegaan, terwyl Hy gedink het aan die oorwinning wat op ons wag deur Sy oorwinning wat Hy vir ons behaal het. Daar is geen mens op aarde wat jou so lief het wat vir jou sal doen wat Jesus gedoen het nie. Jesus se liefde vir ons is so groot dat wanneer ons afdwaal, gaan soek Hy ons en bring ons terug na die res van die kudde toe. Meeste van die tyd wanneer ons afgedwaal het, het ons seer gekry. Dan kom Jesus en tel ons op Sy skouer en dra ons na groen weivelde en versorg ons en genees ons, dat ons as gesonde kinders weer op ons voete kan staan en aan gaan met die lewe. Hy is nie een wat ons verstoot, of afjak en sleg sê nie. Hy draai nie Sy rug op ons en laat ons aan ons eie lot oor nie. Omdat Hy as mens op aarde was, weet Hy presies waardeer ons gaan en het Hy deernis met ons. Hy vertroos en versterk ons. Hy rig ons op en onderrig ons. Hy is daar vir ons in elke situasie, ons moet Hom net aanroep.
Psalm 50:15 en roep MY aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.
Jesus sê dat ons in Hom moet glo en in Sy rus moet in gaan. Dit is die lewe wat Hy vir ons ingedagte gehad het toe Hy ons losgekoop het van die slawerny van sonde. Maar ons het ook nodig om ons deel te doen. Ons moet glo dat Hy ons lief het. Ons moet glo dat Hy gaan voorsien. Ons moet glo dat Hy ons gaan beskerm. Ons moet die duiwel weerstaan met sy leuens en twyfel.
Johannes 14:1 LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God; glo ook in My.
Johannes 14:27 Vrede laat EK vir julle na, My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
Gebed: Hemelse Vader, ons loof U vir U groot liefde vir ons. Ons vra dat U deur U Gees met krag ons sal kom versterk in ons innerlike mens om die liefde van Christus se lengte, breedte, diepte en hoogte ten volle te begryp en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God. U is in staat om te doen ver bo wat ons bid of dink volgens die krag wat in ons werk. Gee U ons vrede in ruil vir ons kommers. Aan U kom toe die eer en heerlikheid in Jesus Naam Amen.

