Ons bevind ons omtrent elke dag in situasies wat ons nie weet hoe ons daar gaan deur kom nie. Ons voel oorweldig, maar dan sê die HERE vir ons:
2 Korinthiërs 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring.
Die Here Jesus is daar, Hy wil aan jou krag skenk, nuwe lewensmoed om weer die lewe aan te pak. Hy wil meer as dit doen. Hy wil aan jou daar in jou swakheid die genade gee om kragtige vir Hom te lewe. Ja jou lewe, swak soos jy is, is vir God bruikbaar. God wil Sy krag in jou swakheid volbring. Ons kan ook saam met Paulus in 2 Korinthiërs 12:10 sê: Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.
Wat is genade dan?
1. Genade is vir sondaars (ons almal is sondaars)
Lukas 18:13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaars, genadig.
Al wat ons moet doen is om te herken dat ons gesondig het, dit te bely en die Here vergewe ons. Sonder dat ons die verdien gee Hy vir ons vergifnis. Dit is genade.
2. Genade is om te kan glo.
Efésiërs 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.
Om te kan glo is ‘n gawe van God en al wat ons moet doen is om ons sonde te bely en Jesus Christus aan neem as ons enigste Saligmaker en Verlosser. Gee jou hele lewe vir Hom. Surrender all to Jesus Christ. As jy dit nog nie gedoen het nie, moenie uitstel nie. Die hemel en die hel is ‘n werklikheid en net Jesus Christus kan jou die ewige lewe gee.
3. Genade is vrye toegang tot God.
Hebreërs 4:16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Al wat tussen ons en die genade troon staan is ons sonde, maar as ons, ons sonde bely is Hy getrou om ons te vergewe en het ons die vrymoedigheid om die God se troon te gaan.
4. Genade is om deur God gesien te word
Genesis 6:8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here.
Dankie, Here, dat U my ook raak gesien en gered het.
5. Genade is om geroep te word.
In Jesaja 43:1 sê God: Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne!
Galasiërs 1:15 Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur Sy genade geroep het….
Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat jy en ek so spesiaal is dat Hy ons by die naam geroep het, nog voordat ons gebore is!
6. Genade is verniet.
Romeine 3:24 …en hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Daar is geen verskuilde kostes nie, ons kan dit net gelowig uit die hand van die Here ontvang. Dit is die wonder van die Here se genade: Dit kos niks, dit is verniet.
7. Genade is rykdom in armoede.
2 Korinthiërs 8:9 Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur Sy armoede ryk kan word.
Nie alleen verstaan Hy ons armoede, ons gesukkel nie, maar Hy wil deur Sy genade vir ons ‘n groter, ewige rykdom skenk – die ewige lewe.
8. Genade is blywende troos.
1 Thessalonisense 2:16-17 En mag ons Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!
Deur Sy genade het die Vader aan ons ‘n blywende, ewige troos gestuur en die Heilige Gees, ons Trooster, bevestig dit in ons harte- in hartseer en verdriet sal ons nooit weer alleen wees nie.
9. Genade is vrede.
Filippense 1:2 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus.
Daar kan net vrede wees waar Jesus heers. ‘n Ongelowige kan nie in ware vrede leef nie. In Jesus kan ons weer in die verwagting leef dat alles weer eendag volgens God se orde sal verloop. Hierdie vrede kry ons net deur genade, net in Jesus Christus.
10. Genade is oorvloedig in alle omstandighede.
Johannes 1:16 En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
God het nie verander nie. Hy wil jou nog steeds genade op genade skenk. Wanneer ons gelowig na God kyk, sal ons vind dat daar niks in ons lewens kan gebeur waar God se genade ons nie kan bereik nie. Ons kan dan waarlik getuig en sê: God se genade is oorvloedig in alle omstandighede.
11. Genade is om deur die Woord op gebou te word.
Handelinge 20:32 En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woorde van Sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die heiliges.
Hoe meer ons volgens die Woord van die Here bou, hoe meer sal die gebou van ons lewens die woonbuurt van God se genade versier, want dan sal ons ‘n gebou bou waarin die Here wil woon. En hierdie gebou sal dan ‘n tempel van God wees. Ons sal wees soos die gebou waarvan daar in Efésiërs 2:20-22 gepraat word: …gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die Hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.
12. Genade is goeie hoop.
2 Thessalonisense 2:16-17 En mag ons Here Jesus Christus self en onse God en Vader wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke.
Die goeie hoop is gevul met ‘n inhoud, ‘n inhoud wat vas en seker is. In 1 Timotheus 1:1 word Christus ons Hoop genoem. Hierdie is nie ‘n hoop wat êrens weggebêre is nie. Dit is ‘n lewende hoop, ‘n lewe vol verwagting, vol afwagting dat Christus elke dag meer en meer in ons lewens sal word. Dit is ‘n uitsien na die wederkoms van die lewende Heiland, maar dit is ook ‘n troos en versekering vir elke dag se lewe. Hoop op God!
13. Genade is om te hoop op die wederkoms van Jesus Christus.
1 Petrus 1:13 Daarom, Omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus .
Petrus verwys na hierdie dae as die openbaring van Jesus Christus. Daarmee bedoel hy die wederkoms van Jesus wanneer die ou dinge sal verbygaan en ons in ‘n nuwe heerlike toekoms sal leef. Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy in 2 Korinthiërs 5:2 sê: Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word.
Daarom sê Petrus ook in 1 Petrus 2:11 dat ons vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde is. Ons toekoms lê nie in die huidige lewe nie.
Om in hierdie deurmekaar wêreld nog te kan hoop op ‘n toekoms, dit is genade. Deur die genade kan ons hoop op ‘n toekoms, op Jesus se wederkoms en waar die volle heerlikheid ons deel sal word.
Laat ons nie die HERE se genade vertrap, maar daaraan vas hou met alles in ons en op Jesus Christus wag met ‘n verlangende hart om saam met Hom die ewigheid te spandeer.
Gebed: Onse Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word. Laat U koninkryk kom en laat U wil geskied. Baie dankie vir U genade so groot en nuut elke dag. Dankie dat U genade vir ons hoop gee en vertroosting in die deurmekaar wêreld waarin ons leef. Ons rig ons harte en lewens na U. Here Jesus ons sien uit na die blaas van die basuin dat ons saam met U na ons hemelse tuiste kan gaan. Maranatha!! In Jesus Naam Amen.
