Joh. 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Joh. 3:14-21 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het Sy Seun in die wêreld gestuur nie om te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
Joh. 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
In Num 21:4-9 lees ons van die Israeliete wat teen God gesondig het en die HERE het giftige slange gestuur om hulle dood te maak. Toe die volk tot God roep en vergifnis vra, het God Moses beveel om ‘n slang op ‘n hout op te lig en almal wat na die slang gekyk het, het nie gesterf nie.

Net soos die slang aan die hout gehang het om die mense te red moes Jesus ook aan die hout hang om die sondaars te red wat om vergifnis vra. Jesus het die volmaakte offer aan die kruis gebring sodat die wat in Hom glo vir ewig sal lewe. Johannes 3:36 lees duidelik die wat in Hom glo het die ewige lewe, nie die wat aan Hom glo nie. In Jakobus 2:19 lees ons die duiwels glo dit ook en hulle sidder. M.a.w die duiwel en sy demone glo ook aan God die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees, maar dit maak nie dat hulle gered is nie. Dit is nie net blote geloof in die bestaan van God wat ons red nie. Wanneer ons in Jesus glo, dat HY aarde toe gekom het om vir ons te sterf en op gestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, dan het ons saligmakende geloof en dit gee vir ons die ewige lewe.
Mense wat bloot met hulle verstand in die bestaan van God glo, sonder bekering, sondebelydenis en wedergeboorte, verval almal in ‘n dooie vormgodsdiens. Joh. 3:3 sê Jesus dat as jy nie gebore word in water en Gees nie, kan jy die koninkryk van God nie in gaan nie. Om in water en Gees gebore te word is wedergeboorte en net die Heilige Gees kan jou wedergeboorte gee wanneer jy jou sonde bely en wegdraai daarvan. Wanneer jy wedergebore is, wil jy nie meer sonde doen nie, uit dankbaarheid vir wat Jesus vir jou gedoen het op die kruis.
Indien jy vandag sterf, waarheen gaan jy? Hemel of hel?
Dink asb vandag ernstig daaroor.
Gebed: Hemelse Vader baie dankie vir U groot liefde vir ons, dat U Jesus Christus, U geliefde Seun gegee het om vir ons so stukkend geslaan te word en gekruisig is en gesterf het sodat ons wat in Hom glo en aanneem as ons Verlosser saam met U kan lewe. Dankie Here Jesus dat U bereid was om dit vir ons te doen en dat U die dood oorwin het en dat U vir ons die opstandingskrag deur die Heilige Gees gee. Ons vra Heilige Gees dat U vir ons sal kom wys of ons saak met Jesus Christus reg is. Help ons om heilig te lewe soos U heilig is. Ons vra dit in Jesus lieflike Naam. Amen
