Rus in die HERE

Die rus wat die Here wil hê ons moet ervaar, kom van die Hebrewse woord Menuchah; wat beteken ‘n plek van stil wees, vrede en rustigheid.

Jeremia 6:16

16. So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.

Wanneer ons buite die HERE se wil is of in sonde leef, bevind ons, ons ook in ‘n plek waar daar geen rus vir ons siel is nie. Daar is onvrede, twis en struwelings. Dit put ons uit. Die onrus en onvrede wat ons ervaar is die Heilige Gees wat ons oortuig dat ons besig is met die verkeerde dinge. Dat ons nie in Vader se wil is nie en dat ons daarvan moet weg draai.

Mattheus 11:28-30

28.Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

29.Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30.want My juk is sag en My las is lig.

Jesus se Joodse luisteraars het ’n groot stryd gehad om God die Vader te ken. Hul godsdienstige leiers het enorme laste / wette op hulle geplaas (Matteus 23:4), en hulle het geswoeg om daardie laste te dra in die hoop om deur God goedgekeur te word. Jesus het pas gesê dat Hy sy Vader aan enigiemand kan openbaar, en Hy bied onmiddellik rus aan almal wat swaar belas is.

Jesus praat nie van fisiese rus nie, maar rus van die siel. Ons het nie nodig om godsdienstige rituele na te kom, om reg met Vader te wees nie. Wanneer ons al die rituele en wette wil volg, raak ons moeg en uitgeput.

Johannes 13:34

34.’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.

Wanneer ons die HERE met ons hele hart en siel lief het en mekaar soos Jesus ons lief het, sal ons net goeie dinge doen. Ons sal dan nie mense wil seer maak of sleg praat van hulle nie. Ons sal ander se belange bo ons belange stel en optree teen ander soos Jesus dit sou doen. Ons sal nie ander kritiseer en veroordeel nie. Die liefde van Jesus sal ons beweeg om daar te wees vir ander en verder ons besig te hou om seker te maak dat ons eie harte gerig is op die HERE en in Sy teenwoordigheid te bly. So het ons dan ook ‘n intieme verhouding met Hom.

HEBREËRS 4:1-13

1. LAAT ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in Sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.

2. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.

3. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in My toorn gesweer, hulle sal in My rus nie ingaan nie — alhoewel Sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.

4. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al Sy werke gerus; 5. en nou hier weer: Hulle sal in My rus nie ingaan nie.

6. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,

7. bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.

8. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie.

9. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God;

10. want wie in Sy rus ingegaan het, rus ook self van Sy werke soos God van syne.

11. Laat ons, ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.

12. Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

13. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Wat Hebreërs ons hier leer is dat ons slegs in die HERE se rus kan ingaan wanneer ons wedergebore is. Rus van dooie werke om redding te probeer kry. Ontvang die rus in Jesus wat verlossing gee uit genade deur geloof in Jesus Christus wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.

Verwelkom die oortuiging van sonde deur die Heilige Gees deur die Woord en reageer daarop om daarvan weg te draai en dit nie verder te doen nie. Verstaan dat die oortuiging van sonde God se genade is wat lei tot vergifnis wat weer lei na vryheid.

Openbaring 14:13

13. En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.

Die HERE roep elkeen van Sy kinders om getrou te bly tot die einde en geduldig uit te hou. Om Hom eerste te stel en ‘n ware intieme verhouding met Hom handhaaf.  Never give up!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *